Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Baccalaureus Legum (LLB)

Akademia se LLB-graad is daarop gerig om bekwame, vaardige en dinamiese regsgraduandi te lewer wat toegerus is met ’n deeglike kennis en begrip van toepaslike regsbeginsels. Dit bied die nodige voorbereiding vir studie op meestersvlak en ontwikkel navorsingskapasiteit in die metodologie en tegnieke van die vakgebied.

WAT KAN EK MET LLB DOEN?

Graduandi van hierdie program sal toegerus wees vir die regspraktyk, waar ’n LLB-graad in Suid-Afrika ’n voorvereiste is om as prokureur of advokaat te praktiseer, hetsy in die openbare of private sektor.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 8

550 krediete

SAKO-nommer: 110809

ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel en voltydse kampusmodel

KWALIFISEER EK OM LLB TE STUDEER?

MODULES

VERPLIGTE MODULES

Hierdie module vorm deel van die basis van regstudies en is daarom van kardinale belang. As deel van die nasionale reg vind ons die privaatreg, waarbinne Personereg ressorteer. Die raamwerk van hierdie module bestaan ondermeer uit die ontstaan en ontbinding van regsubjektiwiteit, sowel as die privaatregterlike status van die natuurlike persoon of regsubjek.

Familiereg is ʼn afdeling van die privaatreg en reguleer die regsverhouding tussen gades, sowel as tussen ouers en kinders. Hierdie module gee studente blootstelling aan verskeie aspekte van die familiereg, wat die regulering van die regsverhoudinge tussen gades, sowel as ouers en kinders beïnvloed.

Eerstens bied hierdie module ʼn oorsig oor hoe die reg as ʼn stelsel funksioneer, wat onder meer die geskiedenis van die reg en indeling daarvan behels. Die verskillende velde van reg, insluitend privaatreg, siviele prosesreg, strafreg, strafprosesreg en bewysreg word behandel. Tweedens bied die module vaardigheidsopleiding, waar daar gefokus word om op lees-, skryf, navorsings- en betoogsvaardighede te ontwikkel.

Hierdie module rus studente toe met kommunikasievaardighede, brei hulle woordeskat in die regskonteks uit en is daarop gemik om dialoog en interaksie aan te moedig.

KEUSEMODULES (KIES DRIE)

Hierdie module bied kennis oor die funksionering van die ekonomie as ’n geheel, asook insig oor hoe om basiese ekonomiese probleme in verskillende ekonomiese stelsels op te los, hoe gesinne en ondernemings besluite neem en hoe pryse onder goeie of ongewensde mededingende omstandighede vasgestel word.

Hierdie module bied ’n oorsig oor die bestuur van sakeondernemings in die Suid-Afrikaanse sakeomgewing. Dit voorsien beginsels vir die bestuur van hulpbronne en aktiwiteite vir optimale winsgewendheid. Die module bied ook ’n inleiding tot die verskeie gespesialiseerde bestuursareas, naamlik menslikehulpbronne, bemarking, openbare betrekkinge, finansies, prosesse, aankope en voorsieningskettingbestuur.

Hierdie module behandel die voorbereiding van finansiële verslae vir enkel entiteite. Die verslae word binne ’n konseptuele en regulatoriese raamwerk saamgestel, met ’n begrip vir die verskeie alternatiewe wat waardering betref, asook die rol van wetgewing en van rekeningkundige standaarde. Deur rekeningkundige tegnieke en stelsels toe te pas, kan rekeninge vir verskillende bedrywe en vir spesifieke transaksies voorberei word. Die meting van finansiële prestasie deur die berekening van basiese verhoudings word behandel, asook die noodsaaklikheid om die nodige beheermeganismes vir rekeningkundige stelsels te verstaan en toe te pas deur na interne beheer en die aard van foute en bedrog te kyk.

Hierdie inleidende module in politiek fokus op die basis van politieke wetenskap deur studente te lei om konsepte, teorie, modelle, ideologieë en breë politieke strukture te verstaan en te begin toepas om sin te maak van spesifieke politieke gevalle. Konsepte en teorie – wat definisies van politiek, die staat, politieke stelsels en owerheidsvorme, partystelsels, kiesstelsels, die verdeling van magte en staatsvorme insluit – word ook toegepas op voorbeelde vanuit die Suid-Afrikaanse politiek.

Hierdie module bied ʼn inleidende kursus in kritiese denke, die kuns van argumentering en die belang van retoriek. Die volgende aspekte kom in hierdie module aan bod:

Stiplees
Die begryp en oordeel van (veral filosofiese) tekste
Die ontleding en evaluasie van argumente
Die identifisering van dwaalbegrippe en denkfoute
Die skryf van filosofiese essays
Inleiding tot retoriek

Studente word deur die loop van die module getoets deur praktiese toepassing van teorie op relevante hedendaagse gevallestudies uit beide die plaaslike en internasionale openbare sfere.

Hierdie inleiding kursus in filosofie – met beide ʼn historiese en sistemiese fokus – gaan in op hoe antieke samelewings en klassieke bronne van filosofie steeds van toepassings is op hedendaagse denkwyses en optrede. Daar word in hierdie module gekyk na van die mees prominente filosofiese vraagstukke, deur eerstens te kyk na vooraanstaande filosowe uit die Antieke, Grieks-Romeinse en Middeleeuse tydperke. Hierdeur word die dinamiese aard van filosofie as dissipline geïllustreer, en word die studente voorsien van die kennis om hulself verder in die studie van filosofie te verdiep.

Hierdie kursus dien as inleiding tot die Latynse taal, sowel as die antieke Romeinse sosiale en kulturele agtergrond. Studente word met taalvaardighede toegerus ten einde basiese Latynse tekste te vertaal. Studente maak ook kennis met die antieke Grieks-Romeinse kultuur en die agtergrond waarbinne die taal, sowel as die Westerse kultuur, ontwikkel het. Sodanige ontwikkeling sluit die regsagtergrond van antieke Rome in.

Neem asb. kennis dat hierdie module slegs op die nauurse onderrigleermodel aangebied word. Studente op die voltydse kontakmodel kan wel die module neem mits hulle bereid is om die nauurse kontaksessies by te woon.

VERPLIGTE MODULES

Kontraktereg is ʼn belangrike gedeelte van die Suid-Afrikaanse privaatreg. In hierdie vakgebied word daar gefokus op die algemene beginsels van kontraktereg. Oorsigtelik is die belangrike gedeeltes van die kontraktereg die aard, grondslag, inhoud en werking van kontrakte. Dit fokus ook op die geldigheidsvereistes van ʼn kontrak om eers te bepaal of ʼn geldige kontrak tot stand gekom het. Hierna is daar verskeie ander aspekte, byvoorbeeld kontrakbreuk en remedies, wat aandag geniet. Die module is saamgestel om kennis te verbreed en kontrakte vir elke mens toeganklik te maak.

Besondere kontrakte is spesifieke tipe kontrakte. In hierdie vakgebied word aspekte soos aankope en verkope, verhuring, sekerheidstelling en verteenwoordiging aangeraak. Besondere kontrakte behandel die noodsaaklike elemente van elke kontrak, die partye betrokke, regte en verpligtinge wanneer die spesifieke kontrak gesluit word, sowel as ander regsaspekte wat ʼn kontrak kan beïnvloed.

Regsuitleg het met die aard en interpretasie van wetgewing te make, asook die metodes van statutêre interpretasie. Hier kom filosofiese perspektiewe, die uitwerking van die Grondwet en konstitusionele interpretasie ook aan die bod.

In administratiefreg word die aard en omvang van administratiefreg, en die prosedure van geregtelike hersiening – asook die moontlike redes daarvoor – ondersoek.

Hierdie module het ten doel om jou kennis, begrip en kritiese denke oor die volgende te ontwikkel: die basiese inval en geskiedenis van konstitusionele reg; die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, insluitende die waardes waarop dié wet geskoei is; die strukturering en funksionering van die Suid-Afrikaanse regering; die grondwetlike regte wat deur die Grondwet toegeskryf word; en die ontwikkeling van grondwetlike regsleer in Suid-Afrika.

Hierdie module rus studente toe met vaardighede om inheemse kultuurgroepe, hul kultuur en die definisie van “regspluralisme” te identifiseer en te verstaan. Dit stel verder die student in staat om die persone- en familiereg van inheemse kultuurgroepe toe te pas, asook om inheemse deliktereg, inheemse erfreg en inheemse kontraktereg te verstaan.

Wetgewing wat met testate en intestate erflatings verband hou, word in hierdie module behandel. Studente word ook aan die basiese beginsels van boedelbereddering blootgestel.

KEUSEMODULES (KIES EEN)

Hierdie module het ten doel om die student se begrip van ekonomie te verdiep deur te demonstreer hoe en hoekom gebeurtenisse in die ekonomiese sisteem plaasvind. Hierdie module fokus op beide die intermediêre makro- en mikro-ekonomie.

Die module bied aan studente kennis van algemene bestuursbeginsels, asook vaardigheid om die kennis prakties toe te pas. Daar word in besonder klem gelê op die bestuursfunksies van beplanning, organisering, leiding en beheer sodat studente goed voorbereid is om as bestuurders, werkers of entrepreneurs ’n bydrae tot die gemeenskap en sakegemeenskap te lewer. Die module bied ook kennis van en vaardigheid in hedendaagse bestuurskwessies.

Die module bied ʼn diepliggende kennis van finansiële teorie en praktyk in die Suid-Afrikaanse konteks, asook ʼn omvattende oorsig oor persoonlike finansies.

Die module bied ʼn oorsig oor die belangrikste aspekte rakend die bestuur van menslikehulpbronne en arbeidsbetrekkinge in ’n organisasie.

In hierdie voortsetting van Politiek 1 word daar in die besonder gekyk na politieke teorie en vergelykende politiek. Die studie van politieke teorie verbreed studente se bestaande kennis van politiese teorieë, konsepte en modelle vanuit ʼn verskeidenheid perspektiewe, terwyl vergelykende politiek die student in staat stel om ʼn breër benadering tot politiese gebeure te neem en dit nie bloot in isolasie te ontleed nie. Hierdie module bemagtig studente om politiek as ʼn wetenskap te benader wat sistematies op politieke probleme toegepas kan word.

In hierdie module word daar voortgebou op die voorgaande inleiding tot filosofie. Daar word steeds histories en sistemies te werk gegaan, maar met ʼn fokus op die begrip van moderne en politiese filosofie. Die moderne been sluit in Machiavelli, Descartes, en figure uit die Britse, Franse en Duitse Verligting. Met betrekking tot politieke filosofie word studente blootgestel aan verskeie politiese denkers.

Die module is saamgestel om die student ʼn begrip te gee van hoe die veld van ekonomie ontwikkel het. Die student word blootgestel aan die ekonomiese filosofie in chronologiese volgorde tot en met hoe die moderne ekonomie ontwikkel het.

Die module stel die student aan die algemene beginsels van deliktereg bloot. Sekere aspekte van die beginsels wat op spesifieke delikte van toepassing is, word ook gedek.

Die module dien as inleiding tot die beginsels van individuele en kollektiewe arbeidsreg. Die beslegting van arbeidsgeskille en alternatiewe dispuutbeslegting, asook aspekte van die dienskontrak, diensverhouding en ontslag in die werkplek, word ontleed.

Die module behandel die algemene beginsels wat met hoof elemente van finansiële reg verband hou. Dit dek, onder andere, beginsels wat belastingreg, versekeringsreg en insolvensiereg onderlê.

Die module behandel die algemene beginsels wat met sakereg verband hou. Dit dek konstitusionele aspekte van sakereg, eiendomsreg en ander regte in en verhoudings tot sake, soos beperkte saaklike regte, besit en houerskap.

Hierdie module behandel wetlike aspekte wat verband hou met ontasbare goedere soos patente, handelsmerke, kopiereg en handelsgeheime. Beginsels met betrekking tot kuberwetgewing word ook hanteer.

Die module behandel die basiese beginsels van maatskappyreg, vennootskappe, besigheidstrusts en beslote korporasies.

ʼn Oorsig van die belangrikste juridiese benaderings, insluitend natuurreg, positivisme, realisme, kritiese regsteorie en moderne en postmoderne benaderings, word in hierdie module hanteer.

Die module bestaan ​​uit twee hoofkomponente: generiese navorsingsvaardighede en metodes en perspektiewe rakende regsnavorsing.

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met kennis rakende die basiese beginsels van die bewysreg en reëls met betrekking tot die toelaatbaarheid van spesifieke bewyse.

Die doel van die module is om studente in staat te stel om die inleiding tot die strafreg, met inbegrip van die strafreg en die regstelsel, te begryp.

Die doel van hierdie module is om begrip te verkry van die historiese ontwikkeling en teorie van die internasionale reg.

Die doel van die module is om die aspekte van litigasietegnieke, wat verband hou met algemene beginsels van siviele prosedure, te verstaan.

Die doel van die module is om aan studente kennis te bied oor die algemene beginsels van strafreg in die laer howe, hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika rakende die opstel van prosesstukke.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van vier jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is agt jaar.

Toelatingsvereistes:

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer met ʼn toelatingspunt (TP) van 32 (Lewensoriëntering uitgesluit), met:
    • Afrikaans 60%
    • Engels 60%
    • Wiskunde 50%*

*Wiskundige Geletterdheid (70%) of Tegniese Wiskunde (60%) kan oorweeg word, mits die voornemende student ʼn algehele goeie akademiese profiel toon.

OF

  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
    • Gemiddeld 60%
    • Sakeberekeninge 70%

OF

  • Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde
    • Gemiddeld 60%
    • Sakeberekeninge 70%

 

Hoe bereken ek my TP-telling? Klik hier.

Programkoste vir 2025

Nauurse afstandsmodel

Jaar een: Vanaf R56 750 | Jaar twee: Vanaf R57 200| Jaar drie: Vanaf R61 600 (afstand) | Jaar vier: Vanaf R68 960

Voltydse kampusmodel

Jaar een: Vanaf R61 750 | Jaar twee: R62 200 | Jaar drie: Vanaf R66 600 | Jaar vier: Vanaf R73 960

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

Nauurse afstandsmodel: Semester 1

Nauurse afstandsmodel: Semester 2

DOEN NOU AANSOEK OM ‘N LLB-GRAAD TE STUDEER